Go to BOOK SA home
17 Mar 2010

BOOK SA – Reviews

@ BOOK Southern Africa

Archive for the ‘Afrikaans’ Category

Adinda Vermaak resenseer Dieter en Madame Zenobia deur Nelia Engelbrecht

March 16th, 2010 by Jani

Dieter en Madame ZenobiaUitspraak: wortel

Volgens Nancie Atwell, ’n bekende Amerikaanse onder wys kenner, lewe amper-tieners in twee wêrelde: Hul vingers klou nog aan die kindertyd, terwyl hul voete onverskrokke vorentoe na vroeë vol­was sen heid stap.
 
Wie is dus die teikenlesers van ’n boek soos Dieter en Madame Zenobia? Die kind wat van ’n ­storieboek met helder kleurige prentjies sê, “Wow, dis cool,” of die kind (en dit kan dieselfde kind wees) wat uit die hoogte kyk na ’n boek wat só begin: “Dis tjoepstil in die saal. Nie een kind waag dit om te snuif of te hoes of hard asem te haal nie. Almal staar met groot oë na die hoof, meneer Du ­Plessis.”

Boekbesonderhede

 

Neil Cochrane resenseer Voetstoots deur John Miles

March 15th, 2010 by Jani

VoetstootsUitspraak: wortel

Met sy jongste roman stel John Miles ’n hele paar uitdagings aan die leser.

Die ongewone vertelperspektief, ineengestrengelde verhaalgebeure, onderbrekings in die vertelling, samevloeiing tussen hede en verlede en vermenging van genres (soos die speur-, liefdes- en spannings­roman) is van die aspekte wat ’n tweede of selfs derde lees vereis.

Tog behoort voornemende lesers nie afgeskrik te word nie, maar moet eerder verheug wees oor ’n roman wat aktiewe en betrokke lesersdeelname verg – daar het sedert Agaat van Mar lene van Niekerk lanklaas ’n lywige roman verskyn wat so ’n ingewikkelde én genotvolle leeservaring vir prosaliefbebbers bied.

Boekbesonderhede

 

Karen Ebersohn resenseer Sonde met die bure en Herrie op die ou tremspoor deur CJ Langenhoven

March 11th, 2010 by Jani

Sonde met die bureHerrie op die ou tremspoorUitspraak:wortel

’n Aangename, plesierige, genotvolle en verruklike leeservaring. Daar is sekerlik nie genoeg woorde om te beskryf hoeveel ure se vreugde ’n mens uit die legendariese skrywer C.J. Langenhoven se boeke put nie. En ’n mens wil nie graag soetsappig raak nie, maar Langenhoven verdien alle lof.

Sonde met die bure is die eerste boekie in die reeks van twee wat as een van sy satiriese verhale bestempel word. Die twee verhale is byna ’n eeu gelede, in 1921, en Herrie op die ou tremspoor, in 1925, geskryf, maar steeds kan jy nie anders as om in verwondering te staan voor Langenhoven se besonderse talent nie. Al twee verhale spreek vandag nog tot die leser. Die leser kan in die storie inklim en saam met die skrywer ervaar asof dit vandag is. Dit is seker een van die merkwaardigste prestasies waaraan Langenhoven se werke vandag gemeet kan word. Daar is dikwels oor hom gesê: Langenhoven skryf nie, maar hy praat. Die twee boeke beklemtoon dit. Sy aanslag, wat deurspek is van sarkasme en kwinkslae, laat ’n mens kraai van lekkerkry.

Boekbesonderhede

 

Zandra Bezuidenhout resenseer Bloot mens deur Jelleke Wierenga

March 9th, 2010 by Carolyn

Bloot mensUitspraak: wortel

Jelleke Wierenga is ‘n wonderlike nuwe aankomeling op die Afrikaanse poësietoneel, met die “vernyn van ‘n steekvlieg”.

Só skryf Zandra Bezuidenhout in ‘n resensie van Wierenga se debuutbundel Bloot Mens op Die Burger se Boekeblok. Wierenga skep ‘n “herkenbare wêreld in algemene spreektaal” in haar poësie. “Die brandpunte is vir almal ter sake.”

Wierenga noem ‘n ding op sy naam en sy probeer nie paai nie. Die manier waarop sy sake verwoord is miskien ‘n bietjie te skerp en direk, maar tog is haar aanslag verfrissend.

en nog styf van bal en boud gegim / handel die geldbedeelde jongoumanne / koel forex-transaksies per bluetooth af / saam met opgeskerpte iPhone-vroutjies (“Lyflike”)

Liefhebbers van sagte vlinderpoësie mag Jelleke Wierenga se debuut nogal geniepsig vind, want sy dig met die venyn van ‘n steekvlieg. Tog, wanneer die spreker haar angeltjie terugvou, staan sy weerloos en naak; sy is “bloot mens” en “kaal” soos in die gedig “Kantwerk” – hoewel die uitdagende gezoem nie noodwendig bedaar nie. Danksy hierdie spel met teendele besit die bundel ‘n eiesoortige trefkrag.

Boekbesonderhede

 

Gert Coetzee resenseer Begging to be Black deur Antjie Krog

March 8th, 2010 by Jani

Begging to be BlackUitspraak: wortel

Elke boek deur Antjie Krog, een van Suid-Afrika se handjie vol internasionaal gerekende skrywers, is ’n happening.
Ook Begging to Be Black, ondanks die bohaai wat dit ná bekendstelling (om die verkeerde redes?) ontketen het.

Dit is die boek waarin sy haarself as ’n wit Suid-Afrikaan in die plek van ’n swart Suid-Afrikaan in ons land met sy veelbewoë rasverlede stel.

Dus, hoe vir ’n witte om jouself swart te verbeel, swart te probeer word.

Boekbesonderhede

 

Danie Botha resenseer Victoria deur Athol Fugard

March 4th, 2010 by Jani

VictoriaUitspraak: wortel

Daar het onlangs stemme op gegaan dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hertzogprys vir Drama ook aan ongepubliseerde dramas toegeken moet word, want daar verskyn so min in boekvorm. Uitgewers vra tereg hoeveel mense koop en lees tog nou dramas? Dié paar wat dit ­nodig het, koop een en dupliseer verder. Dalro en LitNet pak wel tekste in “spense”.
Maar tog is daar nog altyd dramas formeel gepubliseer: wanneer opvoerings daarvan “in die nuus was”, en – veral – as die teks ontleedbaar op skool is en daarom in groot getalle voorgeskryf gaan word.

Boekbesonderhede

 

Joan Hambidge resenseer Resident Alien deur Rian Malan

March 3rd, 2010 by Jani

Resident AlienUitspraak: wortel

Jare gelede, op die voorblad van Esquire, vertel Rian Malan hoe hy Afrikaans, die Afrikaner en apartheid ervaar het. Onder tussen het daar ná My Traitor’s Heart baie water in die spreekwoordelike see geloop.

Hy het nou onlangs in By saam met Pik Botha verskyn. (Terloops, dit is ’n interessante verskynsel hierdie saambring van teenstrydige figure: Zuma en Steve Hofmeyr, nou onlangs.)

Resident Alien – wat beskryf word in die London Times as die werk van Suid-Afrika se Hunter S. Thompson – bevat 27 artikels (ek huiwer om die woord essay te gebruik) waarin die aard van ons uiters komplekse land beskryf word. Om hierdie soort boek te geniet, moet jy uiteraard “in koop” in die ­persona van die skrywer, en nie om dowe neute nie word die boek aangeprys deur Koos Kombuis wat Malan as ’n “one-man cultural revolution” beskryf. Kombuis is self ’n ikoon wat of teenstand of goedkeuring ontlok. Lin Sampson, daardie skerp stilis, beklemtoon weer hoe goed Malan skryf.

Boekbesonderhede

Scribd.com boekuittreksel:

Resident Alien

 

Adriaan van den Berg resenseer Dwars: Mymeringe van ’n Bleek Boorling deur Max du Preez

March 2nd, 2010 by Jani

Dwars: Mymeringe van ’n Bleek BoorlingUitspraak: wortel

Wie is Max du Preez? Dit is lekker om die vraag te vra, omdat dit so ’n interessante antwoord ontlok: Max du Preez is ’n koerantman van formaat en “hardegat-joernalis” (ek haal die bekendstelling op die omslag aan), stigterslid en eens aan die roer van die onafhanklike baanbrekerskoerant Vrye Weekblad, later navorser en aanbieder van ’n reeks televisieprogramme oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, sowel as van die Special Assignment-reeks. Hy is ’n skerp en onverbiddelike maatskaplike en politieke kommentator en hy is ook ’n demokraat, ’n aktivis en ’n skrywer. En dan is daar ook Max du Preez: Sewe keer vir laster gedagvaar en oorlewende van drie vliegtuigongelukke, twee sluipmoordpogings, ’n bomaanval en ’n menigte geswore vyande. Max is ’n kleurryke karakter, maar ook iemand om ernstig op te neem.

Dwars, Max se nuwe boek, is ’n vertaling van die voorafgaande Pale Native. Natuurlik staan sy status en ervaring as joernalis sentraal tot hierdie boek. Dwars raak van die mees beduidende geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika se geskiedenis aan, stel die leser aan besonderse mense voor en dek aangrypende ervarings wat dikwels die groter samelewing beïnvloed – alles deur Du Preez as joernalis waargeneem en aangeteken.

Boekbesonderhede

 

Karen Herbert resenseer Goed om te weet: dié feiteboek vir ingeligte Suid-Afrikaners

March 1st, 2010 by Carolyn

Goed om te weet: dié feiteboek vir ingeligte Suid-AfrikanersUitspraak: wortel

Soek jy na iets om oor te gesels by gesellighede wat die ander gaste sal beïndruk? Dan is die feitegids Goed om te weet deur Hans Büttner en George Claassen vir jou.

Karen Herbert skryf in ‘n resensie van die boek in Volksblad dat dit kort en kragtige informasie oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe bied.

“As jy dit lees, sal jy nie alles van die onderwerp weet nie, maar jy sal die belangrikste weet en verder kan naslaan.”

In die boek Goed om te Weet gaan die leser op ’n ontdekkingsreis na ’n wêreld van kennis wat saak maak. Wil jy saampraat oor verskeie onderwerpe is dít die boek om te lees.
Dit is ’n boek vol feite, maar hoef nie net vir naslaandoeleindes gebruik te word nie. Dit is ’n feiteboek vir ingeligte Suid-Afrikaners. Die boek is ’n interessante en leesbare versameling feite wat jy in die media of in ’n gesprek sal teëkom.

Die boek is goed uiteengesit en die afdelings waarin die kitsfeite uiteengesit word, maak naslaanwerk maklik. Wil jy iets weet oor die Ampie-trilogie (romans deur Jochem van Bruggen) gaan kyk jy net in die inhoudsopgawe by Suid-Afrikaanse literatuur en in die hoofstuk is alles in alfabetiese volgorde. Daar is 13 afdelings met ’n verskeidenheid temas wat insluit die politiek, geskiedenis, geografie, letterkunde, religie, die kunste en wetenskap en tegnologie. Al die inligting is in alfabetiese volgorde.

Boekbesonderhede

 

Ockie Geyser resenseer The Poverty of Ideas deur William Gumede en Leslie Dikeni

February 26th, 2010 by Jani

The Poverty of Ideas: South African Democracy and the Retreat of IntellectualsUitspraak: wortel

Omdat demokrasie as instelling in Suid-Afrika nou fel onder die soeklig geplaas word aan die hand van ontstellende gebeure en onverantwoordelike uitsprake plaaslik, is The poverty of ideas ’n besonder welkome en tydige publikasie. Dit is ’n publikasie wat diepe analitiese introspeksie tot gevolg gaan hê.

Het daar al inderdaad, soos so dikwels beweer word, ’n demokratiese bestel in die ware sin van die woord in Suid-Afrika sedert 1994 ontwikkel? Tot vervelens toe word van “ons jong demokrasie” gepraat sonder dat die substansie daarvan tot sy volle konsekwensie deurgetrek word. Kan van demokratiese verkiesings in Suid-Afrika gepraat word as blatant onder meer gedreig word met “We will kill for Zuma” en ook as ’n sekere deel van die kiesers gedreig word met die verbeuring van voorregte as hulle nie vir die ANC stem nie?

Boekbesonderhede

  • The Poverty of Ideas: South African Democracy and the Retreat of Intellectuals deur William Gumede, Leslie Dikeni
    EAN: 9781770097759
    Find this book with BOOK Finder!