Titaan, deur Karel Schoeman, kombineer “die verteltrant van ‘n roman en die deeglikheid van ‘n biografie”.
Sò skryf Naòmi Morgan in ‘n resensie in Volksblad oor Schoeman se nuwe titanies roman oor die lewe van die skilder Michelangelo. Morgan meen die boek bied die beste van twee wêrelde, alhoewel die nadeel is dat die “bronlose teks” nie in ‘n historiese werk aangehaal kan word nie.
“Schoeman het die gawe om temas te verenig in pragtige, sintuiglike beskrywings, soos wanneer die 89-jarige Michelangelo se oog die klipdrumpel tref, wat herinneringe wek aan sy werk as beeldhouer,” skryf sy:
…ALMAL wat dit lees, weet nou ten minste wat regtig in sy lewe gebeur het. (p. 666)
Die epigraaf gee die gedagtes weer van Michelangelo Buonarroti, ná die verskyning van Ascanio Condivi se kort biografie oor die beeldhouer, skilder, argitek, digter en militêre argitek. Maar die biografie wat Afrikaanssprekendes behoort te lees, is dié van Karel Schoeman, met die gepaste titel Titaan, wat sowel die œuvre onder bespreking en die dokumentering daarvan deur ’n outeur wat gelykwaardige status as historikus en romanskrywer het, beskryf. In die roman self word die term toegeskryf aan pous Julius II: “Dis titaniese projekte wat jy aanpak, Michelangelo Buonarroti (…), en dit pas by wat ’n mens moontlik as jou titaniese persoonlikheid sou kan beskryf.” (p. 266)
Hierdie roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (soos die sub-titel aandui) bied dan ook ’n interessante invalshoek op debatte oor die vorm waarin ’n biografie geskryf moet word en op die ontwikkeling van Schoeman se historiese en sosiologiese studies in ’n minder akademiese styl. Hierdie monumentale teks van 727 bladsye verskuif die generiese bakens tussen biografie en roman, want hoewel dit so gemaklik en spannend lees soos wat die leser van ’n goedgeskrewe roman deur ’n meestervakman kan verwag, is die gedetailleerde en presiese navorsing deur ’n argivaris en bekroonde historikus gedoen. Ongeag die sub-titel het die leser dus hier die beste van twee wêrelde: die verteltrant van ’n roman en die deeglikheid van ’n biografie. Enersyds is ’n magdom inligting so deeglik verwerk dat aanhalings nie meer nodig is nie; andersyds vereis die romanformaat geen voetnote of bibliografie nie.
Boekbesonderhede
Please register or log in to comment